Baie Suid-Afrikaners kies om hul loopbane so lank as moontlik uit te rek en nie op 60 af te tree nie. Inkomste is een van die hoofredes agter hierdie besluit. Verskeie statistieke en menings bestaan oor aftrede en hoe om te spaar sodat jy eendag onafhanklik kan aftree.
Die een ding wat al hierdie syfers en menings gemeen het, is dat die oorgrootte meerderheid (ongeveer 95%) van Suid-Afrikaners nie onafhanklik kan aftree nie en dat bitter min van ons genoeg (en lank genoeg) vir aftrede spaar. Dit beteken slegs 5% van ons hoef nie eendag in ‘n lang ry te gaan staan vir ‘n staatspensioen nie, hoef nie vir familie of vriende vir geld te vra nie, hoef nie ons bates te verkoop om ‘n inkomste te kry nie en sal nie ná aftrede sukkel om ‘n bestaan te voer nie. Dit is ‘n bitter klein gedeelte van die bevolking. As jy reeds die aftreeouderdom (60) bereik het en ‘n aftree-annuïteit het wat jy voornemens is om te gebruik om ná 65 jou inkomste aan te vul, kan jy op 60 in nog ‘n aftree-annuïteit belê?
Die kort antwoord is ja, sê Suzean Haumann, ‘n gesertifiseerde finansiële beplanner by Brenthurst Wealth.
By aftrede is daar ook ‘n klomp opsies beskikbaar en die implikasies van elkeen moet deeglik oorweeg word. Ná aftrede is inkomstevolhoubaarheid en -groei en inflasionêre risiko’s alles faktore wat ‘n rol speel en in ag geneem moet word. Om die aftree-omgewing nog meer kompleks te maak, moet veranderinge in die regulatoriese omgewing en selfs in die wette (Wet op Pensioenfondse, Inkomstebelastingwet) in ag geneem word.
Haumann verduidelik dat administrateurs soos Ninety One, Wealth Foundry en Momentum beleggers toelaat om op enige ouderdom met aftreeannuïteitbeleggings te begin. Voorts is beperkings op globale toewysings binne vooraftredebeleggings só gewysig dat dit die begunstigde bevoordeel.
Die nuwe buitelandse toewysing is verhoog van 30% buitelandse en 10% Afrika-blootstelling tot ‘n totale inklusiewe totaal van 45% buitelandse toewysing. Gebaseer op die langtermyntrajek het toegang tot groter buitelandse ekwiteit baie Suid-Afrikaanse beleggers bevoordeel. Met hierdie nuwe toegewings het aftreeannuïteite ‘n aantrekliker beleggingsopsie geword.
Aftreeannuïteite is ook ‘n uitstekende manier om jou oorkoepelende inkomstebelasting aan SAID te verminder. Volgens Elke Brink van PSG Wealth is die optimalisering van jou jaarlikse belastingvoordele “beslis een van die beste finansiële besluite wat jy in jou portefeulje kan neem”. Solidariteit Finansiële Dienste bied lede uitstekende, professionele en deeglik nagevorste beleggingsadvies. Klik hier om meer te lees oor hoe Solidariteit Finansiële Dienste jou kan bystaan.
Brink verduidelik dat as jy ‘n inkomste verdien, jy ‘n inkomstebelastingaftrekking toegelaat word met betrekking tot jou totale aftreefondsbydraes per belastingjaar. Jy kan ook ‘n bykomende voordeel verkry as jy meer as die jaarliks toegelate R350 000 wil spaar.
Haumann sê aftree-annuïteite is nie die enigste opsie vir diegene van om en by 55+ nie. Gegewe hulle ouderdom kan seniors ook voordeel trek uit ‘n belastingvrye spaarrekening deur van die volle jaarlikse bedrag van R36 000 gebruik te maak. ‘n Kombinasie van die inkomste uit hierdie belegging met ‘n aftree-annuïteit is belastingdoeltreffend en albei is goeie spaarmediums. Solidariteit Finansiële Dienste bied onafhanklike, eerlike finansiële dienste aan lede en nielede met die doel om te verseker dat persone die regte advies ontvang tot voordeel van hul unieke behoeftes.
Hoewel geen maksimum ouderdom van toepassing is op ‘n individu om lid van ‘n aftree-annuïteit te wees nie, sal dit wys wees om voorsiening te maak vir jou goue jare.