Die toebroodjiegenerasie (TG) is ‘n term wat gebruik word om te verwys na volwassenes in verskillende ouderdomsgroepe wat vasgevang is in die versorging van hul ouerwordende ouers enersyds, en die ondersteuning van hul kinders en selfs kleinkinders andersyds.
Meer spesifiek verwys die begrip na middeljarige mense wat sowel hul ouers as kinders finansieel, fisies en emosioneel versorg en ondersteun. Die nuutste statistiek in Suid-Afrika toon dat een uit vier aan dié generasie behoort.
Indien jy deel van hierdie statistiek is, sal jy saamstem dat dit soms moeilik kan wees om nog voldoende spaargeld opsy te sit vir jou aftrede ook.
Met kinders, ouers en broers of susters en die breër gesin waarvoor voorsiening gemaak moet word – dit kan mense in jou diens (soos ‘n huishulp) insluit – wonder jy dalk hoe jy dit gaan laat werk.
Hier is oorwegings waaraan jy moet aandag skenk:
Raak prakties
Bepaal die behoeftes van jou afhanklikes asook jou eie behoeftes en vind uit hoe jy dit kan finansier.
‘n Finansiële instelling sal byvoorbeeld vir jou geld leen om vir opvoedkundige uitgawes te betaal, maar gaan nie vir jou geld leen om aan jou ‘n aftree-inkomste te voorsien nie.
Madri waarsku daarteen om jou aftreespaargeld te gebruik om jou ouers en kinders by te staan. Dit sal byna onmoontlik wees om dit weer op te maak as gevolg van die geleentheidskoste van saamgestelde rente en beperkings op ‘n mens se begroting vir spaar in die toekoms.
Betrek broers en susters (as jy het) by jou finansiëlebeplanning-bespreking.
Gesels met jou broers en susters oor hoe julle die finansiële verantwoordelikheid om na julle ouers om te sien, kan deel.
Reik uit
Voer liefdevolle gesprekke met jou ouers sodra bepaal is hoeveel julle kan bekostig om finansieël by te dra. Vra jou ouers om eerlik te wees oor hulle situasie. Dit kan ongemaklik wees, maar dit kan alle betrokkenes geld, tyd en die risiko van ongesonde verhoudings spaar.
Stel ‘n inventaris op van jou ouers se bates en laste en bepaal of daar genoeg bates is om die laste te oorskry. Kyk ook of daar onnodige uitgawes is wat vermy kan word en of daar bates is wat verligting kan bring in tye van nood.
Soms kan reëlings getref word waar jy jou ouers finansieel bystaan maar ‘n ooreenkoms vir terugbetaling opgestel word, byvoorbeeld uit hul boedel (gegewe dat fondse beskikbaar is). Dis dalk onaangenaam om so daaroor te dink, maar probeer objektief daarna kyk, sê Madri.
Maak seker dat alle familielede se testamente bygewerk is. Indien dit enigsins moontlik is en almal bereid is om dit te doen, kan die inhoud van die testamente ook bespreek word ten einde toekomstige verrassings te voorkom.
Stel ‘n begroting op
‘n Finansiële plan kan aandui waar daar sekere behoeftes is en of die behoefte bevredig kan word. Raadpleeg jou finansiële raadgewer en bepaal of dit nodig sal wees om na ‘n ander produk te kyk soos lewensversekering of ‘n aftree-annuïteit. ‘n Raadgewer kan ook jou uittreegeld belê om jou van ‘n inkomste te voorsien met die oog daarop dat jou kapitaalbedrag langer sal hou.
Oorweeg:
- Mediesefonds- en gapingsdekking vir elke familielid: Stel ondersoek in en vind uit of ‘n gesinsplan dalk goedkoper kan wees.
Korttermyndekking vir voertuie en huishoudelike inhoud: ‘n Onverwagse uitgawe kan die laaste strooi wees wanneer jou begroting reeds onder druk is − gebruik versekering vir ekstra beskerming. - Lewensdekking: Indien jy die een is wat finansieel voorsien, is ander mense op jou inkomste aangewese. As jy sterf, sal dit verdere stremming op die gesin plaas. Bepaal saam met jou professionele raadgewer ‘n voldoende vlak van dekking.
- Voorsiening vir jou kinders: Maak seker daar is in jou testament voogde gestipuleer vir jou kinders en dat jy genoeg lewensdekking het om vir hulle te sorg.
- Enkelbedragongeskiktheid- en inkomstebeskerming: Dis die beste manier om geliefdes te beskerm indien jy nie inkomste kan verdien nie.
- Voorsiening vir skoolfonds: Desember se salaris word dikwels vroeër in die maand uitbetaal. Dit kan lank raak voordat jy Januarie se salaris ontvang. Sit fondse opsy vir skoolgeld en ander groot verpligtinge sodra jy jou Desemberinkomste ontvang, of verkieslik selfs vroeër.
- Maak voorsiening vir reiskoste werk toe en terug: Ondersoek alternatiewe soos saamry of openbare vervoer, indien dit moontlik is.
- Beperk skuld, veral kredietkaarte en korttermynlenings: Wees versigtig vir kredietslaggate, met inbegrip van fooie en hoë rentekoerse.
- Kry hulp met aftree- en beleggingsbeplanning: Jou huidige situasie kan baie jare duur, dus moet jy ‘n plan daarvoor hê. ‘n Objektiewe professionele mening kan help.
- Dekking vir ernstige siektes om mediese fonds aan te vul: Dit kan ‘n goeie idee wees waarmee jy jou finansies kan versterk.
Met statistiek wat aandui dat ‘n kwart van alle Suid-Afrikaners in ‘n stadium afhanklike kinders en ouers sal hê, maak dit sin om proaktief te wees indien jy nog tyd het. - Voer so gou moontlik ‘n eerlike gesprek met jou ouers oor hul geldsake en doen stappe deur ‘n finansiële kenner te raadpleeg. Sorg ook dat jy vroegtydig voorsiening maak vir jou kinders se nagraadse studie deur nou al ‘n maandelikse bedrag te begin spaar.
- Besef dat, om jou leefstyl te kan handhaaf na aftrede, jy voorsiening moet maak vir ‘n maandelikse bedrag van ongeveer twee-derdes van jou maandelikse salaris tot die dag dat jy te sterwe kom.
Bron: https://finansies.solidariteit.co.za/wanneer-jy-jou-kinders-sowel-as-jou-ouers-finansieel-moet-ondersteun/