Om geldslim te wees, gaan oor baie meer as om net elke maand met jou salaris uit te kom. Dis egter nie nodig om bekommerd te raak as jy nie ‘n wiskundige reus is nie. Uitstekende wiskundevaardighede is nie nodig nie − jy moet net basiese optel- en aftreksomme kan maak.
As jy sukkel met geldbestuurskwessies en maandeliks van salaristjek tot salaristjek lewe, selfs al verdien jy meer as genoeg, sal jy baie baat vind by die wenke hieronder.
Die belangrikste is om nooit, wanneer jy voor ‘n aankoopbesluit te staan kom (veral wanneer dit ’n groot bedrag is), net te aanvaar dat jy dit kan bekostig nie. Net omdat daar geld in jou bankrekening is, beteken dit nie noodwendig dat jy die aankoop kan bekostig nie. Jy moet ook jou rekeninge en uitgawes oorweeg en kyk wat jy voor jou volgende betaaldag sal moet betaal.
Dit beteken jy moet ‘n begroting hê wat jy kan nagaan saam met die saldo in jou tjek- en spaarrekeninge voordat jy besluit of jy ‘n aankoop kan bekostig.
- Stel eerstens ‘n begroting op: Sit elke maand ‘n paar uur opsy om aan jou begroting te werk – dis al wat nodig is om jou uitgawes op koers te kry. Fokus op die waarde wat ‘n begroting tot jou lewe kan toevoeg in plaas daarvan om te fokus op die proses om dit te skep.
- Gebruik jou begroting: Raadpleeg gereeld deur die maand jou begroting om jou bestedingsbesluite te help rig. Werk dit by soos jy rekeninge betaal en ander maandelikse uitgawes betaal. Jy moet op enige gegewe tydstip gedurende die maand ‘n idee hê van hoeveel geld jy kan spandeer, met inagneming van enige uitgawes wat jy nog moet betaal.
- Stel ‘n limiet vir uitgawes waarvoor jy nie begroot het nie: Die netto inkomste of die bedrag geld wat oorbly nadat jy al jou uitgawes van jou inkomste afgetrek het en ‘n bedrag opsy gesit het om te spaar, is ‘n kritieke deel van jou begroting. Die bedrag wat oor is, kan vir pret en vermaak gebruik word – maar oordeelkundig. Onthou dat jy ‘n maand lank met die geld moet uitkom. Voordat jy enige pretuitgawes aangaan, moet jy dus seker maak dat dit nie gaan inmeng met enige ander vermaak wat jy vir later in die maand beplan nie.
- Volg jou besteding: Kleiner aankope vermeerder vinnig tot groot bedrae en voor jy dit besef, het jy oorbestee op jou begroting. Spoor al jou uitgawes na (groot en klein) om areas te ontdek waar jy dalk onwetend oorbestee. Bêre jou kwitansies en skryf jou aankope neer in ‘n bestedingsjoernaal. Kategoriseer dit sodat jy makliker areas kan identifiseer waar jy sukkel om jou besteding in toom te hou.
- Moenie jouself verbind tot enige nuwe herhalende maandelikse rekeninge nie: Net omdat jy volgens jou inkomste en krediet kwalifiseer vir ‘n sekere lening, beteken dit nie dat jy dit moet aangaan nie. Baie mense is naïef en aanvaar dat die bank hulle nie sal goedkeur vir ‘n kredietkaart of lening wat hulle nie kan bekostig nie.
Die bank is net bewus van die inkomste wat jy noem en die skuldverpligtinge in jou kredietverslag – nie van enige ander verpligtinge wat jou kan verhoed om jou betalings betyds te maak nie. Dis jy wat op grond van jou inkomste en ander maandelikse verpligtinge moet besluit of ‘n maandelikse paaiement bekostigbaar is.
- Maak seker jy betaal die beste pryse: Doen inkopies vergelykenderwys en verseker só dat jy die laagste pryse vir produkte en dienste betaal. Kyk uit vir afslag, koepons en goedkoper alternatiewe wanneer jy kan.
- Spaar vir groot aankope: Die vermoë om gratifikasie te kan uitstel, is waardevol en kan jou baie help wanneer dit kom by beter bestuur van jou geld. Wanneer jy groot aankope uitstel eerder as om belangriker noodsaaklikhede op te offer of die aankoop op ‘n kredietkaart te plaas, gee jy jou tyd om te evalueer of die aankoop nodig is en selfs om pryse te vergelyk. Deur vir die aankoop te spaar eerder as om krediet te gebruik, vermy jy ook die betaling van rente op die aankoop.
- Beperk jou kredietkaartaankope: Kredietkaarte is ‘n slegte besteder se grootste vyand. Wanneer jou kontant opraak, wend jy jou eenvoudig tot jou kredietkaarte sonder om te oorweeg of jy dit kan bekostig om die balans te betaal. Weerstaan die drang om jou kredietkaarte te gebruik vir aankope wat jy nie kan bekostig nie, veral vir items wat jy nie regtig nodig het nie.
- Dra gereeld by tot spaargeld: Om elke maand geld in ‘n spaarrekening te deponeer, kan jou help om gesonde finansiële gewoontes te ontwikkel. Stel dit só op dat die geld outomaties van jou tjekrekening na jou spaarrekening oorgeplaas word. Op dié manier hoef jy nie te onthou om die oordrag te maak nie.
- Om geldslim te wees, verg oefening: Jy is dalk nie daaraan gewoond om vooruit te beplan en aankope uit te stel totdat jy dit kan bekostig nie, maar hoe meer jy bogenoemde goeie geldgewoontes deel van jou daaglikse lewe maak, hoe makliker sal dit raak om jou geld te bestuur, en hoe beter sal jou finansies daar uitsien.