
Boedelbeplanning en Testamente Verantwoordelike boedelbeplanning, opstel en bewaar van testament asook bykomstige produkte om vir jou geliefdes die maksimum voordeel te trek.
Vir baie mense is boedelbeplanning een van daardie lastighede waarvoor daar later tyd gemaak sal word, maar ongelukkig is daar soms nie ’n “later” nie. Laat Solidariteit Finansiële Dienste jou help om jou boedel gladweg af te handel sodat jy weet dat jou naasbestaandes versorg sal wees indien iets met jou gebeur.
Volg die stappe hieronder om seker te maak dat jy ’n geldige testament het:
Laat jou testament opstel
Dit is nie raadsaam om jou eie testament op te stel nie, tensy jy ’n deskundige is. Gesels met jou finansiële adviseur of ’n geakkrediteerde makelaar oor jou wense en ook die erfgename en begunstigdes wat jy in gedagte het.
Wenke om te volg tydens die opstel van jou testament:
- Beplan jou testament sodat dit so eenvoudig moontlik is.
- Maak seker jou testament is prakties. Moenie dit beskou as ’n dokument wat in werking sal tree eers wanneer jy ’n gevorderde ouderdom bereik het nie. Jy is miskien nie so gelukkig nie.
- Toets die inhoud van jou testament teen die kontant wat in jou boedel beskikbaar is.
- Wees prakties wanneer jy besluit hoe jou bates verdeel moet word. Dit is byvoorbeeld dalk nie raadsaam om jou bates gelykop tussen jou gade en kinders te verdeel nie, tensy jou hele boedel uit kontant bestaan.
- Onthou dat die status van jou huwelik, byvoorbeeld binne of buite gemeenskap (met of sonder aanwas), ’n effek gaan hê op die manier waarop jy jou testament opstel.
- Vermy onbuigsame opdragte in jou testament sover moontlik. Dink mooi na wanneer jy beperkings plaas op die beweging van bates of die oordrag van welvaart.
- Benoem ’n voog indien daar minderjarige kinders is. Maak voorsiening vir onderhoud ingevolge ’n egskeidingsbevel. ’n Testamentêre trust word hiervoor aanbeveel.
- Sorg dat jy ’n datum aanbring op jou testament. Dit sal verseker dat die laaste geldige testament geïdentifiseer kan word.
- Dit is uiters noodsaaklik dat daar genoeg kontant in jou boedel is wanneer jy sterf. ’n Kontanttekort kan veroorsaak dat bates noodgedwonge verkoop moet word.
- Dit is raadsaam om nie begrafnisreëlings in jou testament voor te skryf nie. Die testament word dikwels eers ná die begrafnis gelees.
- Vir ’n testament om geldig te wees, moet dit op skrif wees. Dit kan met die hand geskryf of getik word. ’n Mondelinge testament of ‘n video-opname word nie as geldig beskou nie.
- Moenie uitstel nie. Die impak wat ’n onbehoorlik opgestelde of ontbrekende testament op jou gesin kan hê, moenie onderskat word nie
Kies ’n eksekuteur
Die benoeming van ’n eksekuteur is ’n groot verantwoordelikheid. ’n Persoon wat met sorg gekies is, kan aansienlike belastingbesparing verseker in die boedeladministrasieproses. Jy kan jou gade benoem, maar dis meestal nie ’n goeie idee nie, aangesien hy of sy emosioneel verpletter kan wees en nie gereed is om belangrike finansiële besluite te neem nie. Dit is hier waar ’n finansiële adviseur ’n belangrike rol kan speel.
Teken jou testament en laat getuies ook teken
As jy tevrede is met die bewoording van jou testament, kan jy die oorspronklike weergawe teken en dit ook laat teken deur twee getuies wat ouer as 14 is. Onthou, jy moet die testament in die teenwoordigheid van albei getuies teken, en die getuies moet elke bladsy parafeer en op die laaste bladsy hulle volle handtekening aanbring.
Die volgende persone mag nie as getuies teken nie:
- enigiemand wat iets uit jou bestorwe boedel ontvang, en/of hulle gades
- die eksekuteurs, trustees en voogde en/of hulle gades
Sorg dat jou testament in veilige bewaring is
Jou oorspronklike, getekende testament moet verkieslik in ’n kluis bewaar word totdat dit tyd is om jou boedel af te handel.
Hersien jou testament gereeld
Hersien jou testament minstens elke twee jaar, en veral indien jou persoonlike omstandighede verander het – byvoorbeeld as jy trou of skei, by die dood van ’n gade of erfgenaam, die geboorte van ’n kind, die verkryging van eiendom of ’n besigheid, of as jy ’n erfporsie ontvang.
- Kry kundige hulp.
- Maak seker jou boedel is solvent.
- Haal die beste uit jou boedel.
- Wees eerlik en regverdig.
- Maak seker alles is bymekaar.