‘n Begroting gaan nie daaroor om jouself te ontneem van die dinge wat jy graag wil hê nie. Inteendeel, ‘n goeie begroting tref voorsorg vir onvoorsiene gebeure terwyl dit jou toelaat om jou rekeninge te betaal en geld weg te sit vir die toekoms.
Ongelukkig veroorsaak valse persepsies oor begrotings dat baie mense dit verkeerd benader of die idee van ‘n bestedingsplan heeltemal opgee.
Hier volg ‘n paar van die grootste begrotingsfoute wat vermy moet word, plus wenke wat jou kan help om elke maand geld te spaar.
Jy skat jou uitgawes
Om te raai hoeveel jou uitgawes is, gaan nie werk nie want jy spandeer waarskynlik maandeliks meer as wat jy dink. Hou vir ‘n maand of twee boek van alles waarop jy geld uitgee. Op hierdie manier kan jy sien waarheen jou geld gaan en met ‘n realistiese begroting vorendag kom.
Jy vergeet om te spaar vir die onverwagte
‘n Begroting is nie net nuttig vir die bestuur van rekeninge nie – dit is ook ‘n hulpmiddel om jou persoonlike spaargeld te help groei. Terwyl jy ‘n begroting vir vaste en veranderlike uitgawes skep, moenie vergeet om jouself te betaal nie. Behandel jou spaarrekening soos enige ander uitgawe in jou begroting en jy sal verbaas wees hoe vinnig dit groei.
Jy het onrealistiese verwagtinge
Jy is dalk gretig om jou finansiële situasie te verbeter, maar hou matigheid in gedagte. ‘n Ekstreme begroting lyk goed op papier, maar hierdie benadering is nie altyd effektief, realisties of volhoubaar nie.
Beginners wat vir die eerste keer begroot, kry dit dikwels reg om die syfers op papier te laat klop, maar dit het geen basis in die werklikheid nie. Begin eerder met babatreetjies en maak uitgawes soos duur wegneemetes geleidelik minder terwyl jy al meer etes tuis begin voorberei.
Jou begroting is gebaseer op jou bruto inkomste
Jy verdien dalk ‘n klomp geld per jaar maar na belasting, gesondheidsversekering en ander betaalstaataftrekkings is jou werklike verdienste heelwat minder. Vir ‘n realistiese begroting sal jy ‘n bestedingsplan moet skep wat gebaseer is op jou netto inkomste.
Jy oorweeg nie goedkoper alternatiewe nie
Geldbesparingskenners beveel aan dat mens maandelikse nutsrekeninge (soos jou internet, selfoon en stroomdienste) moet hersien en aktief na maniere te soek om te spaar, soos om na nuwe verskaffers te soek en tariewe te vergelyk, of om met ‘n retensiespesialis te praat om te sien of jy in aanmerking kom vir ‘n afslag of spesiale promosie.
Jy het te veel finansiële rekeninge
As jy te veel kredietkaarte en veelvuldige tjekrekeninge het, is dit maklik om tred te verloor met hoe jy jou kontant spandeer. Vereenvoudig jou rekeninge en maak dit vaartbelyn anders kan dit lei tot duur rampe − kredietgraderingskade, laat fooie, wentelbalanse en oorbesteding ingesluit.
Jy koop ‘n te duur huis
Die meeste mense sal dit nie waag om van hul droomhuis af weg te stap nie, maar om ‘n te duur huis te koop, is fataal vir jou begroting. As jy ‘n begroting opstel en ontdek dat jou verband- of huurbetaling die onderliggende oorsaak van finansiële angs is, is dit tyd om af te skaal na iets goedkoper.
Jy neem te veel verantwoordelikhede aan
Dis net logies om uitgawes soos die delging van skuld, die bou van ‘n noodfonds, geld vir ‘n vakansie en finansiële hulp aan ‘n familielid, by jou begroting in te sluit. Om egter vir veelvuldige doelwitte gelyktydig te spaar of te veel verantwoordelikhede aan te neem, kan onrealisties wees en onnodige druk op jou begroting sit.
Jy pas nooit jou veranderlike uitgawes aan nie
‘n Begroting werk nie tensy jy bereid is om jou bestedingspatroon te verander, indien nodig. As ‘n beoordeling van jou uitgawes aantoon dat jy te veel bestee aan kategorieë soos vermaak, sal jy aanpassings moet maak.
Jy gebruik geld uit ander spaarfondse
Hoe aanloklik dit ook al mag wees, moenie – net omdat daar ‘n uitverkoping is − die geld wat vir ander bestedingskategorieë (soos kruideniersware) opsy gesit is, gebruik wanneer jy byvoorbeeld reeds jou klerebegroting vir die maand bestee het nie.
Jy werk nooit jou begroting by nie
Die begroting wat jy vandag skep, kan teen hierdie tyd volgende jaar irrelevant wees omdat inkomste en uitgawes van tyd tot tyd verander.
Jy probeer tred hou met vriende
In ‘n poging om tred te hou met spandabelrige vriende wat nie jou finansiële ingesteldheid deel nie, blaas jy dalk meer geld as wat jy moet. Wees bewus van saam met wie jy inkopies doen.
Jy mors
Verlepte slaai, melk wat reeds verby die vervaldatum is en halfgeëte aandetes – ons gooi te veel kos weg en mors so ons geld. Statistiek wys dat een derde van al die voedsel in Suid-Afrika in die vuilgoedblik beland. Dis egter nie net kosafval nie, dis ook goedkoop klere en ander items wat breek of ongewens is omdat dit swak vervaardig is. Spaar geld (en die planeet) deur op gehalte te fokus en net te koop wat jy kan verbruik.
Jy dikteer die gesinsbegroting
In die geval van paartjies moet een persoon nie die gesinsbegroting dikteer of beheer nie. ‘n Begroting is slegs effektief wanneer albei partye kommunikeer en oor die bepalings ooreenkom.
Jy vergeet van onreëlmatige uitgawes
Dit is goed dat jy vir onverwagte uitgawes soos motorherstelwerk en huisverbeterings begroot, maar jy sal ook moet begroot vir onreëlmatige uitgawes, soos jaarlikse versekeringsbetalings en belastingrekeninge. Bou daardie uitgawes in jou begroting in deur die jaarlikse koste te skat en dan deur 12 te deel.
Jy ontneem jouself pretgeld
Almal moet van tyd tot tyd stoom afblaas en om ‘n bietjie pret te hê met jou geld is nie onverantwoordelik nie. Daarsonder sal geen begroting op aarde oor die langtermyn werk nie.
Om jou finansiële vooruitsigte reg te stel, verg moeite en werk, maar die gemoedsrus wat daarmee gepaard gaan is deur en deur die moeite werd.
Bron: https://finansies.solidariteit.co.za/die-begrotingsfoute-wat-jy-maak/