Jou testament is seker een van die belangrikste wettige dokumente wat jy ooit sal opstel; dit bepaal waarheen jy jou bates wil laat gaan, wie voogdyskap kry oor jou afhanklikes, wat van jou skulde moet word en wie jy as eksekuteur oor jou boedel en laaste wense aanstel.
Tog het soveel mense nie ʼn testament nie bloot omdat hulle die opstel daarvan uitstel of omdat hulle dink hulle het geen nalatenskap nie.
Persone bo 16 mag ʼn testament opstel en persone bo 18 behoort reeds ʼn testament of boedeldokument in plek te hê.
Solidariteit se lidmaatskapsvoordele sluit die gratis opstel en die berging en bewaring van testamente in. Klik hier vir meer inligting.
1) Die eerste fout is om nie ʼn testament te hê nie
Indien jy intestaat – sonder ʼn testament – te sterwe kom, sal die Meester van die Hooggeregshof ʼn eksekuteur aanstel en die boedel sal verdeel word ooreenkomstig die reëls van intestate erfopvolging. Indien daar geen oorlewende familielede bestaan nie en daar geen bloedverwante is nie, word die boedel inbetaal in die Voogdyfonds van die Meester van die Hooggeregshof, en indien dit nie binne 30 jaar opgeëis word nie, sal dit verbeur word aan die staat.
2) Jy stel te veel eksekuteurs aan
Jy dink dalk jy wil al jou kinders of afhanklikes ʼn sê gee in die administrasie van die boedel. Dit lei gewoonlik tot familietwis en verdeling. ʼn Voorbeeld hiervan is as daar vaste eiendom, byvoorbeeld ʼn plaas, in die boedel is, sal daar geargumenteer word of die plaas in die familie moet bly of verkoop moet word omdat party van die eksekuteurs in finansiële nood verkeer. Hoe meer eksekuteurs daar is, hoe feller is die stryd en hoe groter die konflik van belange wat jy nie voorsien het nie.
Indien jy twee eksekuteurs aanstel, wie kry die finale sê indien hulle nie saamstem nie? Indien jy enige eksekuteurs gaan aanstel, maak seker dit is ʼn onewe aantal sodat daar ʼn meerderheidsbeslissing sal wees. Is die eksekuteur van jou boedel kundig genoeg om uitvoering aan jou laaste wilsbesluit te gee? Dit sal raadsaam wees om ʼn prokureur aan te stel wat gespesialiseerde regskennis besit aangaande die administratiewe proses. Jy mag steeds ʼn eksekuteur tesame met die prokureur aanstel.
3) Jy is vaag oor items van sentimentele waarde
Items van sentimentele waarde is die dinge waaroor familielede twis. Indien jy weet een van jou begunstigdes wil graag iets hê of dat die persoon na regte iets moet erf, bespreek dit, gee dit vooraf of spesifiseer dit.
4) Jy het bates wat jy nie spesifiek benoem nie
Indien jy dalk ʼn eiendom of ʼn ander bate bekom het wat jy nie in jou testament spesifiseer nie, sal die bate of eiendom as intestaat beskou word en verdeel word ingevolge die Wet op Intestate Erfreg (Nr. 81 van 1987). Dieselfde geld as jy iets bemaak het aan ʼn persoon wat te sterwe gekom het en jy nie ʼn plaasvervanger-erfgename benoem het nie; die reëls van intestate erfreg sal dan bepaal hoe die boedel verdeel moet word.
5) Jy hersien nie jou testament nie
Daar is lewensgebeure soos egskeidings, huwelike, geboorte van kinders, traumas en verandering in welvaart wat vereis dat jy jou testament gereeld moet hersien.
6) Jy dink nie aan die gevolge van jou bemaking nie
Om geld aan kinders na te laat, kan vir hulle bemagtigend wees indien hulle volwasse genoeg is om dit tot hul voordeel te bestuur, maar dit kan ook ʼn las wees wanneer dit belastingverpligtinge gaan inhou. So kan ʼn nalatenskap soos vaste eiendom ook ʼn las wees indien die begunstigde byvoorbeeld in die buiteland woon of nie fisies of finansieel in staat is om die eiendom in stand te hou nie. Jy beoog dalk om voorsiening te maak vir die versorging van ʼn minderjarige of gestremde afhanklike, maar het jy ʼn verantwoordelike en eerlike voog aangestel om die fondse te administreer, en wat behels die administrasie en dienslewering aan die persoon?
7) Niemand weet waar om jou testament te kry nie
Hou ʼn afskrif van jou getekende testament op ʼn veilige plek en laat jou geliefdes weet waar om dit te kry; sodoende spaar jy hulle baie moeite. Laat persone na aan jou weet by watter prokureursfirma jou oorspronklike dokument bewaar word.
8) Jy stel self jou testament op
Dit is ʼn gevaarlike ding om te doen. Kry kundige advies. Betaal jou fooi aan ʼn firma wat spesialiseer in boedels en testamente, veral as jy ʼn gekompliseerde boedel het. Dit kan jou begunstigdes baie moeite en koste spaar. Om ʼn testament op te stel wat voldoen aan die vereistes vir ʼn testament om geldig te wees, verg kundigheid en regskennis, asook kennis van boedelbelasting, kapitaalwinsbelasting en inkomstebelasting. Moenie staatmaak op algemene gedrukte vorms wat deesdae so geredelik beskikbaar is nie, tensy jou boedel baie eenvoudig daaruit sien. ʼn Prokureur wat in boedelbeplanning spesialiseer, sal die kans vir moontlike dubbelsinnigheid, wat interpretasie deur die howe mag verg, raaksien en verminder en mag ook in staat wees om maniere voor te stel waardeur die boedelbelasting betaalbaar aan die staat verminder kan word.
9) Jou testament voldoen nie aan wetlike vereistes nie
Gegewe dat dit gemiddeld nege maande neem om ʼn boedel af te handel, moet jy foute op die dokument vermy.
Indien jou testament nie aan wetlike vereistes voldoen nie, kan dit ongeldig bevind word en dit sal dan ingevolge die Wet op Intestate Erfreg beredder word. Eerstens moet ʼn testament op skrif wees. ʼn Mondelingse testament word nie deur ons reg as geldig erken nie.
Die persoon wie se testament dit is (testateur), moet self die testament onderteken. Die testateur kan nie aan iemand anders volmag gee om die testament namens hom/haar te teken nie.
Getuies wat saam met die testateur geteken het, mag nie van die testateur erf nie. Die getuies moet die testament onderteken in die teenwoordigheid van die testateur en in mekaar se teenwoordigheid. Die getuies moet hulle name voluit teken. Hulle mag nie voorletters of ʼn merk gebruik nie. As die testament langer as een bladsy is, moet die testateur en dieselfde getuies al die bladsye volledig onderteken. As die Kommissaris van Ede ʼn testament gesertifiseer het wat met ʼn merk onderteken is, moet dieselfde Kommissaris ook al die bladsye onderteken.
Jou testament kan nie enigiets bevat wat onwettig, immoreel, “teen openbare beleid”, onmoontlik om uit te voer, of so vaag is dat dit nie uitgevoer kan word nie.
Jy kan jou testament geheel of gedeeltelik herroep, maar jy moet ʼn klousule insit waarin jy aandui dat jy alle vorige testament herroep. Indien jy dit nie doen nie, geld die oorspronklike testament. Indien jy net ʼn gedeelte van jou testament verander, kan jy dit doen deur ʼn ander geskrif op te stel wat onderteken, gedateer en deur getuienisse onderteken is wat nie familieverwant is nie.
Indien jy nie ʼn testament het nie of een het wat verouderd is en wat nie meer gepas is vir jou lewensomstandighede nie, is dit raadsaam om jou prokureur te kontak.