Skuld in Suid-Afrika het astronomies toegeneem en huishoudings is in die algemeen in die knyp. Statistieke toon ongeveer tien miljoen mense het slegte skuld, met meer as drie maande se agterstallige betalings, en verder dat mense meer as 70% van hul besteebare inkomste bestee aan skuld wat terugbetaal moet word. Hulle is dus in ’n skuldstrik vasgevang.
Enigiemand kan in ’n erge skuldsituasie beland. Ons staan egter voor ’n unieke uitdaging – ’n verbruikerskultuur wat onmiddellike bevrediging onophoudelik aandryf. Kombineer dit met die maklike toegang tot krediet en jy kan maklik beheer oor jou finansies verloor, waarsku Carla Oberholzer van DebtSafe.
Kry jou skuld onder beheer deur:
1. Jou finansiële situasie te hersien
Beantwoord onderstaande drie vrae:
– Wat is my maandelikse inkomstebedrag na aftrekkings?
– Wat wys my betalingsgeskiedenis op my bankstate vir my uit?
– Wat toon my kredietrekord?
Jou kredietverslag en jou krediettelling is albei gratis, mits jy dit net een keer per jaar aanvra. Jy kan jou kredietgradering aanvra by enige van die drie kredietburo’s wat oor die meeste verbruikerskrediet verslag doen – Experian, Equifax en TransUnion.
Nie alle gratis kredietgraderingdienste is egter heeltemal gratis nie – sommige mag daarop aandring dat jy aanmeld vir ‘n kredietmoniteringsdiens wat met ‘n maandelikse heffing gepaard gaan as jy nie daarin slaag om dit te kanselleer nie.
Gaan kyk na jou kredietgradering en gaan jou kredietverslag na vir onakkuraathede en identifiseer die rekeninge wat jou gradering benadeel. Onthou dit neem net een of twee laat betalings (selfs al het jy nougeset hoewel nie betyds nie betaal) om ‘n verbruikerslening van ‘n goeie gradering na ‘n slegte gradering te skuif.
2. Vergelyk jou huidige inkomstebedrag met jou skuldbedrae
Tel al jou maandelikse skuld op.
Deel dit deur jou inkomstebedrag voor enige aftrekkings.
Die finale persentasie toon jou skuld-tot-inkomsteverhouding. Enige persentasie bo 40 is ’n waarskuwingsteken.
3. Prioritiseer
Dit beteken dat jy skadelike (slegte) skuld identifiseer en jou begroting gebruik om maniere te vind om hierdie tipe skuld gouer af te betaal terwyl jy steeds jou ander maandelikse verpligtinge nakom.
Finansiële kenners raai ons aan om realistiese doelwitte stel terwyl ons eerste die skuld met die hoogste rente begin afbetaal. ’n Kredietkaart is ‘duur’ skuld. Sodra dit afbetaal is, kan jy ’n enkele kredietkaart hou vir noodgevalle en van die res ontslae raak.
Ideaal gesproke moet jy probeer om vir jouself ‘n noodfonds op te bou deur maandeliks daarvoor te spaar. Studies toon kredietkaarte speel ’n beduidende rol in verbruikers se bankrotskap.
Waarskuwing: Wanneer jy diep in die skuld is, benadeel die sluiting van kaarte jou krediettelling deurdat dit jou totale hoeveelheid beskikbare krediet verminder en jou krediet benuttingskoers verhoog. Moet dus nie jou kredietkaarte nou sluit nie.
4. Begin met skadebeheer
Stel ‘n strenger begroting op en maak gebruik van outomatiese betalings om jou skuld onder beheer te kry. As jou kredietgradering dit toelaat, kan jy probeer om ‘n groter lening teen laer rente te verkry. Konsolideer dan al jou verbruikerskuld in hierdie lening en bespoedig só die proses van afbetaling.
Jy kan ook probeer aansoek doen vir ’n kredietkaart saldo-oordrag en jou skuld op een kaart konsolideer. Dit kan jou toelaat om skuld vinniger af te betaal deur hoë-rente-skuld oor te dra na ‘n kredietkaartrekening wat lae of geen rente op die saldo eis nie vir enigiets vanaf ses tot 18 maande, afhangende van die aanbod. Indien jy egter nie die balans afbetaal het teen die einde van die grasietydperk nie, kan jy hoë kredietkaart-rentekoerse verwag.
As jy toegang het tot ’n huisekwiteitkredietlyn (HELOC) – wat laer rentekoerse as die meeste ander vorme van krediet het – kan jy dit ook gebruik om skuld met hoër rente te delg.
5. Verdubbel jou afbetalings
Gebruik enige ekstra inkomste (soos bonusse of ’n dertiende tjek) om skuld af te betaal.
6. Neem verantwoordelikheid
As jou skuld net te veel is, is dit dalk tyd vir ‘n paar drastiese maatreëls. Skaal jou uitgawes op vermaak af en verkoop alle nie-noodsaaklike items. Enige geld wat deur die verkope ingesamel word, moet as enkelbedragbetalings teen jou lening met die hoogste rente aangewend word.
7. Raadpleeg kundiges
Oorweeg ’n skuldberader wat deur die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) gereguleer word. Jy betaal beradingsfooie maar ’n skuldberader kan baie nuttige wenke verskaf, seker maak dat jy op die regte pad is met jou terugbetalingsplanne, en ondersteuning bied wanneer jy met krediteure vergader.
8. Onderhandel
As jy nie onder skuldberading is nie en self met krediteure oor ’n terugbetalingsplan wil onderhandel, moet jy jou huiswerk vooraf doen en vir jou ’n begroting uitwerk om al jou skuld te delg.
Sodra jy al jou dokumente in orde het, moet jy ‘n tyd vasstel waarop jy met elk van jou skuldeisers kan vergader. Verduidelik die stappe wat jy reeds geneem het om te verhoed dat die afbetaling van jou skuld agterweë bly en vra om te heronderhandel oor jou skuld – sorg dat die skikking op skrif is.
Skuld kan ’n mens angstig maak en ’n invloed hê op jou verhoudings, jou gesondheid en jou selfbeeld, maar met hulp en goeie beplanning kán jy die skuldketting breek. Met bogenoemde wenke kan jy die bul by die horings pak voordat jou skuldlas jou lewe begin verwoes.
Bron: https://finansies.solidariteit.co.za/kry-jou-skuld-onder-beheer/