Jy werk hard vir jou geld. Daarom moet jy seker maak dat jy dit veilig hou.
Hier is handige wenke:
Hou aanlyn bankdienste amptelik. Kontroleer altyd dat jy op die bank se amptelike webwerf is en dat jy die regte banktoepassing afgelaai het (daar is baie vals toepassings daar buite). Gaan altyd die webwerf adres na om seker te maak jy is op die regte plek.
Kyk uit vir https:// en die hangslotsimbool wat aandui dat dit ‘n veilige webwerf is. Maak ook seker jy gebruik ‘n veilige wi-fi-netwerk (nie ‘n openbare wi-fi nie) wanneer jy bankdienste doen of aanlyn koop.
Doen gereelde bywerkings. Hoe meer op datum jou toestelle se sagteware is, hoe veiliger is jy teen kubermisdadigers.
Hou jou wagwoorde veilig. Moenie jou aanmeld- of kaartbesonderhede stoor nie en moet beslis nie jou wagwoorde, kodes of aanmeldbesonderhede met enigiemand deel nie. As jy ‘n bitcoin-beursie op jou foon het, moet jy seker maak dat jy ook die sleutels rugsteun. Gebruik meer as een wagwoord op ‘n slag en verander dit gereeld. Probeer om by kombinasies te hou wat vir ander moeilik sal wees om te raai – vermy byvoorbeeld die gebruik van jou verjaarsdagdatum.
Kry ‘n foonopsporingstoepassing. As jy ‘n banktoepassing of supertoepassings gebruik soos ApplePay, SamsungPay, Fitbit Pay of Garmin Pay − toepassings wat jou toelaat om met jou foon in plaas van ‘n kaart te betaal – is dit wys om ‘n foonopsporingstoepassing kry sodat jy jou foon kan opspoor of jou data kan uitvee as jou foon wegraak.
Bly in kontak met jou bank. Stel SMS-waarskuwings vir banktransaksies op en vra jou bank om jou in kennis te stel as jou saldo onder ‘n sekere bedrag daal − dan sal jy dadelik weet as iets ongewoons besig is om te gebeur is. Kyk gereeld na jou bankstate en as jy enigsins iets onbekend sien, selfs vir ‘n klein bedrag, bevraagteken dit.
Fluister (of sorg vir privaatheid). Dit is maklik om per ongeluk jou bankbesonderhede met almal binne hoorafstand te deel. As jy betalingsbesonderhede oor jou selfoon gee, maak seker dat niemand jou hoor nie.
Leer om ‘n bedrogspul uit te ken. Leer om swendelary en e-posse wat slenters of uitvissing kan wees en wat jou mislei om jou besonderhede uit te gee, te herken. ‘n Nuttige gids tot swendelary kan gevind word by: https://www.fic.gov.za/Resources/Pages/ScamsAwareness.aspx
Kuberdiewe gee dikwels voor dat die boodskap van ‘n amptelike bron af kom (soos banke of studenteleningsmaatskappye), of van mense wat hulp nodig het, of iemand vir wie jy omgee (soos vriende wat in die buiteland vasgevang is). Kyk uit vir:
- e-posse wat net jou voornaam of tweede naam gebruik (nie albei nie);
- swak spelling en grammatika;
- enigiets wat sê dit is regtig dringend of dat jy vir niemand moet vertel nie; en
- enigiets wat jou vra om aan te meld deur op ‘n skakel op die e-pos te klik − tik die adres afsonderlik in en gaan deur die bank se amptelike webwerf.
Moet nooit reageer op ‘n selfoonoproep of e-pos wat versoek dat jy enige van jou besonderhede meedeel nie. Indien moontlik, besoek eerder die naaste tak van jou bank of kontak die amptelike nommer op jou kaart of jou bankstate.
Kontakloos: mite vs werklikheid. Kontaklose betalings (soos virtuele kaarte, QR-kodes, tik-en-betaal. ens.) raak al hoe gewilder. Visa Back to Business Study – 2021 Outlook het bevind dat 65% van verbruikers nou kontaklose betalings verkies.
Een van die groot voordele van kontaklose betalings is die uitstekende sekuriteitskenmerke, sê John McLoughlin, uitvoerende hoof van J2 (‘n tegnologieonderneming wat op sekuriteitsdienste fokus). Maar selfs die veiligste betalingstoepassing of –platform gaan nie veilig wees as jou wagwoord 1234 is nie.
Moet nooit jou kaart uit jou sig laat gaan nie en pasop vir onbekende platforms of webwerwe. Moet ook nie jou PIN, wagwoorde of eenmalige wagwoorde met enigeen deel nie.
Jy loop die gevaar van diefstal as jy jou kaart verloor of dit gesteel word. In so ‘n geval kan daar wel ‘n paar transaksies gedoen word, maar die risiko is tot klein bedrae beperk. En as jy ‘n slagoffer van bedrog is, kry jy jou geld terug, so maak seker dat jy dit by jou bank aanmeld.
Indien jy bekommerd is oor mense wat geld van jou kontaklose kaart steel deur ‘n toestel naby jou sak rond te swaai – dit is ‘n stedelike mite.
Gebruik meer as een bankrekening. Jy moenie al jou geld in een rekening bêre nie. Versprei dit eerder tussen verskillende rekeninge, sodat as een rekening in gevaar gestel word jy nie dalk al jou geld verloor nie.
Bly op jou hoede by die geldmasjien. As dit lyk of iemand gepeuter het met die gleuf waarin jy jou kaart moet plaas, moenie dit gebruik nie.
Bedek jou PIN met jou hand terwyl jy dit insleutel.
Moenie toelaat dat iemand te naby agter jou staan of jou aandag probeer aflei nie. Wag totdat die verdagte persoon loop of gebruik liewer later ‘n ander masjien.
Moenie jou PIN weer invoer as die masjien jou kaart insluk nie. Bel dadelik jou bank.
Jou finansiële sekuriteit behoort vir jou ‘n topprioriteit te wees want as jou finansies in die gedrang kom, kan dit jou in ‘n warrelwind van stresvolle en moeilike tye laat beland terwyl jy sukkel om die probleem reggestel te kry.
Bron: https://finansies.solidariteit.co.za/maniere-om-jou-geld-veilig-te-hou/