
Persoonlike Finansiële Advies Beleggings, annuïteite, lewensversekering en ander omvattende risikoprodukte aangebied deur ons professionele en Afrikaanse span by Solidariteit Finansiële Dienste.
Solidariteit Finansiële Dienste (SFD) bedien Solidariteit-lede en nielede van onafhanklike en eerlike finansiële advies. SFD beskik oor die dienste van gesertifiseerde finansiële adviseurs wat spesialiseer in beleggings, aftreebeplanning, die hantering van afleggings/bedankings, lewens- en ongeskiktheidsversekering, belastingbeplanning vir individue, mediese beplanning en dekking en boedelbeplanning.
’n Finansiële adviseur is ’n hoogs geskoolde en gekwalifiseerde professionele persoon met kennis en ondervinding van alle aspekte van persoonlike finansies. Die keuse van ’n finansiële adviseur beteken jy kies iemand wat jy kan vertrou om jou as ’n individu te verstaan en jou te help om jou langtermyn finansiële doelwitte te bereik.
As ’n belegger is dit goed om te weet dat finansiële adviseurs volgens wet aan sekere minimumvereistes moet voldoen.
Dit sluit in:
- Hulle moet deur die FSCA as ’n finansiële diensverskaffer (FDV) gelisensieer wees. Die RFD is ’n onafhanklike instelling wat toesig hou oor alle aktiwiteite van die finansiële bedryf in Suid-Afrika, en hy beheer alle finansiële diensverskaffers. Jy kan nagaan of ’n finansiële adviseur gelisensieer is deur die RFD se webwerf by www.fsb.co.za te besoek en jou finansiële adviseur se RFD-nommer te gebruik, wat op sy webwerf, briefhoof en korrespondensie moet verskyn.
- Hulle moet aan “geskikte en gepaste” vereistes voldoen ingevolge die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste (die sogenaamde FAIS-wet). FAIS het ten doel om te verseker dat alle finansiële adviseurs aan streng standaarde voldoen betreffende eerlikheid, bekwaamheid, finansiële gesondheid, operasionele vermoë en voortgesette professionele ontwikkeling.
- Hulle moet ’n Gesertifiseerde Finansiële Beplanner (GFB) wees. In Suid-Afrika is dit verpligtend vir ’n finansiële adviseur om ’n GFB te wees, wat internasionaal erken word as die norm vir professionele advies. Om ’n GFB te word, moet ’n finansiële adviseur ’n nagraadse professionele diploma behaal, ten minste drie jaar finansiëlebeplanningverwante ondervinding hê, ’n streng etiese kode nakom en elke twee jaar 65 uur voortgesette professionele ontwikkeling voltooi.
Vyf vrae om aan jou finansiële adviseur te stel
Voordat jy vir die eerste keer met jou finansiële adviseur vergader, gebruik ’n paar minute om ’n paar onderwerpe vir bespreking neer te skryf. Daar is belangrike vrae wat jy vooraf moet dek om te verstaan hoe jou finansiële adviseur te werk gaan en wat jy van die verhouding kan verwag.
Watter dienste bied ’n finansiële adviseur aan?
’n Finansiële adviseur kan advies gee oor beleggings, versekering en gesondheidsorg. Vind uit watter persentasie elke terrein uitmaak, sodat jy weet of jy te doen het met ’n algemene adviseur, ’n spesialisbeleggingsadviseur of ’n versekeringsadviseur.
Dit is ook belangrik om uit te vind oor spesialisdienste soos belastingbeplanning, boedelbeplanning en die opstel van testamente. Jy sal moontlik nie aanvanklik al hierdie dienste nodig kry nie, maar dit is goed as jou finansiële adviseur spesialiste of vennote het wat hierdie terreine in die toekoms kan dek.
Watter proses volg ’n persoonlike adviseur om my behoeftes te bepaal?
As ’n eerste stap moet ’n finansiële adviseur inligting inwin oor jou huidige situasie, soos besteebare inkomste en skuld. Dit word gewoonlik gevolg deur ’n behoefte-ontleding, wat kyk na jou beleggingsoogmerke, hoe lank tyd jy het om hierdie oogmerke te bereik, en die tipes belegging waarmee jy gemaklik is. Maak seker dat jy volledig ingelig word oor die benadering wat jou finansiële adviseur gaan volg.
Hoe dikwels sal julle vergader en hoe gaan julle kommunikeer?
Voordat jy ’n finansiële adviseur kies, is dit belangrik om te bepaal hoe dikwels jy hom sal sien en wie jou gereelde kontakpersoon gaan wees. Party mense wil gereelde skakeling met hulle finansiële adviseur hê, en ander verkies om net in die geval van groot veranderinge ingelig te word. Maak seker dat die finansiële adviseur wat jy kies, met jou kommunikeer en werk op ’n manier wat jou pas.
Het die finansiële adviseur vrywaringsversekering?
Niemand kry ’n finansiële adviseur en verwag ’n negatiewe uitkoms nie, maar dit is noodsaaklik om te weet jy word gedek as die ergste sou gebeur. Vrywaringsversekering is verpligtend vir finansiële adviseurs en is belangrik wanneer die onderneming klein is en nie deel van ’n groter organisasie van goeie naam is nie. Dit dek ’n finansiële adviseur teen eise voortspruitend uit swak oordeel of nalatigheid
Wat is ’n finansiële adviseur se kostebasis?
Finansiële adviseurs kan gelde op twee maniere hef:
- Kommissiegebaseerde gelde word gehef waar ’n finansiële adviseur ’n persentasie verdien op grond van jou totale belegging in ’n sekere produk.
- Voorafgelde word op ’n uurlikse basis gehef vir die tyd wat met jou finansiële adviseur deurgebring word.