As ‘n mens gesond is en net dan en wan oor ‘n verkoue of griep by ‘n dokter kom, kan jy nog die besoeke uit jou sak betaal. Mediese noodgevalle en die behandeling vir sommige langdurige siektes kan jou egter soms duisende rande uit die sak jaag en jou gesin finansieel benadeel.
Om ‘n mediese fonds te kies, kan nogal verwarrend wees. Dit is dalk goed om eers ‘n paar dinge uit te klaar.
Jou begroting
Mediese fondse is duur en dit is belangrik om die regte besluit te neem. Jy moet seker wees dat jy dit kán bekostig en dat daar genoegsame dekking gaan wees. En die belangrikste: Sal jy kan voortgaan om die premie te betaal nadat jy afgetree het?
Kyk na jou behoeftes
Hoe oud is jy? Is jy enkellopend? Het jy kinders? Is daar enige oorerflike siektes in die familie? Volg julle ‘n gesonde leefstyl? Ly iemand in die gesin aan ‘n chroniese siektetoestand?
Belangrike dinge om uit te vind
Dit is dalk ‘n goeie idee om met ‘n onafhanklike makelaar te gesels wat nie net op een skema fokus nie. Dit is belangrik om die middeweg te vind tussen wat jy kan bekostig en wat jy of jou gesin se behoeftes is.
Hoe lyk die fondse se reserwes?
Volgens wet moet mediese fondse minstens 25% van hul lede se jaarlikse bydraes in reserwe hou en belê om te verseker dat daar fondse is om eise te betaal. Verstaan ook hoe om die beste waarde vir geld uit jou gekose opsie te kry.
Al die opsies is dalk verwarrend
Kyk wat is die dag-tot-dag-beperkings en hoeveel jou jaarlikse mediese spaarrekening by die fonds beloop. Met kinders in die huis kan jy maklik jou voordele teen die vierde maand van die jaar opgebruik as die spaarrekening net vir ‘n klein bedrag voorsiening maak.
Kyk ook waarvoor jy uit jou eie sak sal moet betaal en na die bedrag van die hospitaalvoordele en of jy tot bepaalde hospitale beperk is.
Dit is ook belangrik om deeglik na te gaan hoe kankerbehandeling bepaal en gedek word.
Wat word nie gedek nie?
Daar is gewoonlik twee soorte uitsluitings – dié wat vir ‘n tydperk van minder as ‘n jaar geld wanneer jy ‘n nuwe lid is en dié wat altyd uitgesluit is. Maak seker dat alles wat jy van jou fonds verwag wel ingesluit is voordat jy aansluit. Jy betaal dalk ‘n stywe premie per maand, maar ‘n siekte wat by jou gediagnoseer word, word dalk nie deur jou mediese fonds gedek nie.
Wat gebeur as jy ernstig siek word en ‘n beter opsie nodig het?
Jy kan jou plan een maal per jaar op- of afgradeer. Opsieveranderinge tree dan gewoonlik op 1 Januarie van die volgende jaar in werking. Maak doodseker van die dekking en bydrae van jou nuwe opsie voordat jy oorskakel.
As jy deur die loop van die jaar ernstig siek word en jou opsie wil opgradeer, sal jy ‘n geskrewe motivering aan die mediese fonds se raad van trustees moet voorlê.
Is jou gesin gedek as jy sou sterf?
Hulle sal gedek wees tot aan die einde van die maand van die laaste bydrae wat jy betaal het. Jou afhanklikes kan kies om lede te bly, en die maandelikse bydrae sal dan aangepas word in ooreenstemming met die getal afhanklikes.
Wat van ‘n hospitaalplan?
Hospitaalplanne is gewoonlik meer bekostigbaar, maar dit is belangrik om te onthou dit betaal net uit as jy in die hospitaal beland en dit is onderworpe aan sekere voorwaardes. ‘n Hospitaalplan betaal uit om voorsiening te maak vir verlies aan inkomste as jy in die hospitaal is, maar nie vir direkte mediese uitgawes nie.
Tel dit teen jou as jy op ‘n hoër ouderdom by ‘n mediese fonds aansluit?
Jy kan gepenaliseer word as jy ná die ouderdom van 35 by ‘n mediese fonds aansluit. Laataansluitingsboetes kan daartoe lei dat jy maandeliks meer betaal. As daar reeds ‘n chroniese toestand by jou gediagnoseer is wanneer jy om lidmaatskap aansoek doen, kan daar ook ‘n algemene wagtyd van drie maande of ‘n toestandspesifieke wagtydperk van 12 maande geld. In dié tyd sal jy die volle bydrae moet betaal sonder dat jy sal kan eis.
Hoe word my bydrae bepaal?
Mediese fondse is niewinsgewend. Bydraes word saamgevoeg om alle gesondheidsorgkoste (eise) asook niegesondheidsorgkoste (bv. administrasie en makelaarsgelde) te betaal. Die gesonder nie-eisende lede help om die eise van die ouer, sieker lede te subsidieer. Dit beteken wanneer jy siek word, sal jy ook gesubsidieer word en sonder kruissubsidiëring sal mediese fondse elke jaar al hoe hoër bydraes vereis om lewensvatbaar te bly en sodoende algaande al hoe meer onbekostigbaar raak.
Sal mediese toetse nodig wees voordat ek aansluit?
Na gelang van die inligting op jou aansoekvorm, kan die fonds verdere mediese ondersoeke as deel van die onderskrywingsproses vereis. Dit is belangrik om enige gesondheidstoestande waaraan jy ly of waarvoor jy in die 12 maande voor jou aansoek mediese advies gevra het bekend te maak. As jy dit nie doen nie, kan jou lidmaatskap opgeskort of selfs gekanselleer word.
Bostaande is algemene riglyne en kan van fonds tot fonds verskil.
Bron: https://finansies.solidariteit.co.za/mediese-fonds-hoe-moet-ek-kies/