Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het vroeër vanjaar in sy begrotingsrede aangekondig dat Suid-Afrikaanse belastingbetalers in aanmerking kan kom vir ‘n belastingaansporing wat verband hou met die installasie van sonkrag.
Dit volg op die bevestiging van pres. Cyril Ramaphosa toe hy in die staatsrede aangekondig het dat die regering aan maniere werk om private opwekking onder huishoudings en sake-ondernemings in die land te vergemaklik en om te help om die kragkrisis wat Suid-Afrika tans beleef, hok te slaan.
Belastingbetalende Suid-Afrikaners en ondernemings sal in die komende boekjaar kortings kan eis vir sonpanele op die dakke van hul wonings en ondernemings, sowel as vir ander vorms van hernubare kragopwekking.
Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het in sy onlangse begrotingsrede aangekondig dat “individue wat vanaf 1 Maart 2023 sonpanele op hul wonings en ondernemings se dakke installeer, ‘n korting van 25% op die koste van die panele kan eis, tot ‘n maksimum van R15 000.”
Godongwana het ook aangekondig dat R254 miljard aan Eskom toegeken word om dié staatsinstelling in staat te stel om sy enorme skuld van R423 miljard te betaal. Hy het verduidelik dat die doel van die skuldverligting was om ruimte vir Eskom te skep om die instelling se balansstaat te versterk en hom in staat te stel om sy bedrywighede te herstruktureer.
Volgens ‘n dokument wat deur die nasionale tesourie uitgereik is, is die doel van die aansporing om huishoudings en ondernemings aan te moedig om in skoon elektrisiteitsopwekking te belê. Die aansporing om belastingbetalers aan te moedig om in hernubare elektrisisteitopwekking te belê, sal slegs vir een jaar geldig wees.
Individue wat persoonlike inkomstebelasting betaal, kan die korting teen hul belastingaanspreeklikheid eis. Individue sal ‘n korting ter waarde van 25% van die koste van nuwe en ongebruikte sonpanele kan eis, tot ‘n maksimum van R15 000 per individu.
Die nasionale tesourie se dokument verduidelik dit soos volg:
‘n Persoon koop byvoorbeeld 10 FV-panele aan teen ‘n koste van R4 000 per paneel (teen ‘n totale koste van R40 000 dus). Daardie persoon sou 25% van die koste tot en met die bedrag van R15 000 kan eis. Die persoon kan dus R10 000 eis.
‘n Ander persoon kan 20 panele teen ‘n koste van R4 000 per paneel aankoop (wat dus ‘n totale koste van R80 000 beloop). Die berekening van 25% van die koste beloop R20 000, maar die persoon kan net R15 000 eis.
Wat is die vereistes?
- Slegs nuwe en ongebruikte FV-panele kwalifiseer om te verseker dat die kapasiteit bykomend is tot die reeds bestaande kapasiteit. Die panele kan as deel van ‘n nuwe stelsel of as ‘n uitbreiding van ‘n bestaande stelsel geïnstalleer word.
- Slegs FV-panele met ‘n minimum kapasiteit van 275W per paneel kwalifiseer vir die korting. Die ander komponente van ‘n stelsel – batterye, omskakelaars, toebehore of dieselopwekkers – en installasiekoste kwalifiseer nie daarvoor nie. Draagbare panele sal ook nie kwalifiseer nie.
- FV-panele moet geïnstalleer word by ‘n huis wat hoofsaaklik deur ‘n individu vir huishoudelike doeleindes gebruik word. Die veiligheid van die installasie sal by wyse van ‘n sertifikaat van voldoening ingevolge die Elektriese Installasieregulasies, 2009 bewys moet word om die veiligheid van die installasie en voldoening aan elektriese regulasies te verseker.
- Die FV-panele moet deel wees van ‘n stelsel wat gekoppel is aan die privaat woning se hoofverspreiding..
- Die korting is van toepassing op kwalifiserende FV-sonpanele wat vir die eerste keer in die tydperk vanaf 1 Maart 2023 tot 29 Februarie 2024 in gebruik geneem word.
Hoe kan ek die aansporing van die SAID eis?
Individue sal die korting kan eis mits die volgende beskikbaar is:
- ‘n BTW-faktuur wat die koste van die FV-panele apart van die ander items aandui, tesame met die bewys van betaling.
- ‘n Sertifikaat van voldoening wat bewys dat die FV-panele vir die eerste keer in gebruik geneem is in die tydperk vanaf 1 Maart 2023 tot 29 Februarie 2024.
- LBS-belastingbetalers (PAYE) sal die korting op die aanslag van die 2023-’24 belastingseisoen kan eis.
- Voorlopige belastingbetalers sal die korting teen voorlopige en finale betaling kan eis.
- Volgens die nasionale tesourie word slegs sonpanele by die aansporing ingesluit omdat dieselopwekkers, hoewel hulle dikwels as noodrugsteun gebruik word, nie ‘n volhoubare oplossing bied om krag op te wek nie. Die gebruik van kragopwekkers verhoog ook die vraag na brandstof en het negatiewe omgewingsimpakte. Kragopwekkers doen ook afbreuk aan die klimaatdoelwitte waartoe die regering verbind is, waar fiskale instrumente soos koolstofbelasting ‘n belangrike rol speel. Batterye en omskakelaars sal geen bykomende kapasiteit aan die stelsel bied nie.
Wat van mense wat huurders is of in deeltitelskemas woon?
Die Nasionale Tesourie het aangedui daar is geen eienaarskapsbeperking vir die aansporing nie, daarom sal installasies deur verhuurders of huurders in aanmerking kom, maar slegs die party wat vir die sonpanele betaal, kan die korting eis.
Die Nasionale Tesourie wys daarop dat regspersone en deeltitelskemas nie voordeel sal kan trek uit die korting nie. Volgens die Nasionale Tesourie was daar min aanduiding dat regspersone sonkraginstallasies sal wil aankoop eerder as om dit te huur of om ander opsies te gebruik om voorafkoste vir lede te vermy nie. Regspersone is daarom nie in ag geneem by die opstel van die skema nie. Hierdie aspek word egter deurlopend geassesseer.
Indien inwoners van sulke skemas wel geleentheid kry om hul eie panele te installeer, sal die belastingaansporing geld soos wat dit vir ander indiwidue geld.
Moet ek die SAID terugbetaal as ek my huis verkoop nadat ek die sonpanele geïnstalleer het?
Nee, daar sal geen verhaling van jou wees as jy jou huis verkoop nadat jy van hierdie aansporing gebruik gemaak het nie. Die sonpanele sal waarskynlik aan die huis vas bly en deur die volgende eienaar gebruik word, wat steeds ‘n uitbreiding van die stelsel moontlik maak. Indien jy egter die sonpanele verwyder en verkoop sal daar ‘n terugbetaling van die korting wees as jy die panele binne een jaar verkoop nadat hulle die eerste keer in gebruik geneem is om potensiële misbruik teë te werk.
Die voorafgaande is gebaseer op ‘n dokument, Frequently asked questions – Solar Panel Tax Incentive for Individuals,wat deur die nasionale tesourie gepubliseer is.
Hoe kan besighede by die aansporing baat?
Die bestaande belastingaansporing wat ingevolge artikel 12B van die Inkomstebelastingwet tot besighede se beskikking is, uitgebrei word. Tans laat die artikel 12B-aansporing besighede toe om die koste van hernubare energieprojekte oor een tot drie jaar van beleggings in hernubare energieprojekte af te trek wat ‘n kontantvloeivoordeel gedurende die beginjare van die projek skep.
Besighede kan 50% van die projekkoste in die eerste jaar, 30% in die tweede jaar en 20% in die derde jaar van belasting aftrek.
Die uitgebreide aansporing vir besighede wat sedert Maart vanjaar geldig is, sal besighede in staat stel om ‘n 125%-aftrekking in die eerste jaar vir alle hernubare projekte wat daarvoor kwalifiseer (insluitend beleggings in projekte vir windkrag, gekonsentreerde sonkrag, hidrokrag en biomassa- asook fotovoltaïese (FV)-projekte) te eis. Daar is geen drempel ten opsigte van die opwekkingskapasiteit van hierdie projekte nie en die aansporing sal vir twee jaar geld vir beleggings wat vir die eerste keer in gebruik geneem is tussen 1 Maart 2023 en 29 Februarie 2025 in gebruik gekom het
Na verwagting sal byna 6 500MW krag oor die volgende 24 maande tot die netwerk gevoeg word waarvan die meeste projekte na verwagting ingebedde opwekking sal wees of projekte in besit van maatskappye wat onderneem word om om aan hul eie elektrisiteitsbehoeftes te voldoen.
Solidariteit moedig sy lede en die publiek aan om hul afhanklikheid van Eskom sover as moontlik te verminder en om, waar dit moontlik is, gebruik te maak van hernubare kragbronne. Solidariteit is van mening dat die land se ekonomie slegs beduidend sal herstel as staatsinmenging in die ekonomie en staatsbesteding drasties afneem.
Solidariteit beskou die voortsetting van sentralisering en inmenging deur die staat as die verkeerde besluit wat die ekonomie verdere skade sal berokken. Solidariteit se siening is dat daadwerklike hervorming van wette en beleide nodig is om die beginsels van ware ekonomiese vryheid te reflekteer.
Volgens Solidariteit is daar nie ‘n enkele element van die energiekrisis wat sy oorsprong het in ‘n beperking op staatsmag nie, en dat dit juis die regering se jaloerse vasklou aan sy monopolie in die sektor is wat die kernoorsaak van die krisis is.
Jy kan help om die kragkrisis op te los. Gebruik die skakel vir meer inligting: https://solidariteit.co.za/eskom-inligtingsblad/
Eskom kan nie meer alleen vir ons krag voorsien nie. #OnsSalSelf verantwoordelikheid moet neem as die staat ons in die steek laat. Die grootste daad van protes is om van die Eskom-kragnetwerk af te klim en jou eie ding te doen. Nuwe tegnologie en duurder Eskom-krag maak dit nou meer as ooit vantevore moontlik om self krag op te wek. Dak vir dak sal ons privaat kragstasies bou.
BRON: https://finansies.solidariteit.co.za/belastingaansporings-vir-die-installasie-van-sonkrag-hoe-werk-dit/