Dit is geen geheim dat Suid-Afrikaners nie genoeg spaar vir ‘n gerieflike aftrede nie. Nogtans sal sommige argumenteer dat dit geen sin maak of vir eendag te spaar terwyl hulle nou sukkel om kop bo water te hou nie.
Lewenskoste skiet die hoogte in, en die bykomende uitgawes wat met beurtkrag gepaard vererger die situasie.
Daarbenewens kan die rimpels van die Covid-19-pandemie steeds oor die hele land gevoel word aangesien daar ‘n toenemende tendens is dat werknemers bedank en vroeë toegang tot aftreefondse bekom. Mense moet vir aftrede spaar, maar het ook nou ekstra geld nodig.
Die SAID en die Nasionale Tesourie het aftrede-hervorming voorgestel om vroeë toegang tot aftreefondse met rondomheining toe te laat terwyl ‘n gedeelte behou word vir aftreebehoeftes. In Julie 2022 is die wysigingswetsontwerp vir Wette op Inkomste, wat ‘n nuwe ‘tweepot’-aftreefonds voorstel om aan lede meer buigbaarheid te verskaf, vrygestel vir openbare kommentaar.
Die stelsel handhaaf ‘n balans tussen twee probleme: maksimalisering van aftreespaargeld deur vroeë onttrekkings te minimaliseer, en vroeë toegang tot aftreespaargeld toe te laat om onvoorsiene gebeure aan te spreek.
Die aftreefondse sal in ‘potte’ verdeel word:
Spaarpot: Lede sal een belasbare onttrekking per jaar uit hulle ‘spaarpot’ kan maak. Die onttrekking mag nie meer as een-derde van die bydraes wees nie. Tans is die voorgestelde minimum onttrekkingsbedrag R2 000. Onttrekkings uit die spaarpot sal by die lede se jaarlikse belasbare inkomste ingesluit word en sal onderworpe wees aan hulle marginale inkomstebelastingkoers. Met aftrede mag ‘n lid tot soveel as die volle bedrag van sy of haar spaargeld in sy of haar spaarpot as ‘n kontantlompsom onttrek, wat belas sal word ooreenkomstig die aftreebelastingtabelle.
Aftreepot: Die ‘aftreepot’ sal die ander twee-derdes van die fondsbydraes bevat en moet behou word tot by aftrede en gebruik word om ‘n annuïteit te koop. Geen bedrae wat tot die aftreepot bygedra is, kan voor die aftreedatum onttrek word nie.
Gevestigde pot: Die stelsel stel ‘n derde pot voor, naamlik die ‘gevestigde pot’. Aangesien die tweepotstelsels slegs van toepassing sal wees op aftreebydraes wat na die implementeringsdatum gemaak word, sal ‘n lid se huidige opgehoopte bydraes nie aan die tweepotstelsel onderworpe wees nie. Hierdie bydraes sal onder die gevestigde pot gekategoriseer word, wat die totale aftreefondsrente in die fonds en alle toekomste groei op daardie bedrag sal insluit. Wanneer die tweepotstelsel aktief is, sal mense nie tot die gevestigde pot kan bydra nie (met die uitsondering van lede van ‘n voorsieningsfonds wat op 1 Maart 2021 55 jaar of ouer was). Fondslede sal nie toegelaat word om voor aftrede geld uit die gevestigde pot te onttrek nie.
Volgens die huidige wetsontwerp, sal die tweepotstelsel nie retrospektief wees nie, wat beteken dat die nuwe reëls nie bestaande aftreespaargeld en -bydraes tot op die datum van implementering sal affekteer nie. Dit blyk egter dat die tweepotstelsel verpligtend sal wees vir alle aftreefondse vanaf die implementeringsdatum. Volgens Business Tech sal die nuwe stelsel op 1 Maart 2024 in werking tree, maar die presiese datum moet nog bevestig word.