Om jou eerste voltydse beroep te beklee gaan gepaard met meer finansiële verantwoordelikhede. Om te verseker dat jou salaris nie net vir die eerste week van die maand hou nie, is dit noodsaaklik om reeds vanaf jou eerste salaris ‘n begroting op te stel.
Al werk jy hoe versigtig jy met jou geld, kan jou finansies van tyd tot tyd weens onvoorsiene omstandighede bietjie ontspoor. Maar as jy vanuit die staanspoor begroot, daarby hou en die begroting gereeld aanpas, sal jy goeie finansiële vaardighede ontwikkel wat jou later in jou lewe, wanneer jy trou en met ‘n gesin begin, handig te pas sal kom.
Waarom is dit noodsaaklik om reeds vanaf jou eerste salaris ‘n begroting op te stel?
’n Begroting is die belangrikste instrument in enige werkende persoon se finansiële beplanning. Die doel van ‘n begroting is nie net om jou inkomste en uitgawes te laat klop nie, maar ook om voorsiening te maak vir aftrede, ‘n nood-/reserwefonds vir onvoorsiene uitgawes, spaar vir ‘n deposito op ‘n huis, ‘n motor en ander noodsaaklike uitgawes.
Wat is die uitgawes waarvoor ‘n mens moet begroot?
Jou begroting moet voorsiening maak vir lopende maandelikse uitgawes, soos huur, jou munisipale rekening, internet, selfoon, studielening, kos en brandstof, vermaak/ontspanning, geskenke, lidmaatskapfooie van klubs en organisasies, en dankoffers.
Noodsaaklikste uitgawes is ’n mediesefonds, ’n lewenspolis en pensioenvoorsiening, asook ‘n begrafnispolis. Die goue reël is dat jy vanaf jou eerste salaris 10% van jou bruto salaris behoort te spaar vir aftrede. As jy byvoorbeeld R400 000.00 per jaar verdien, is die mikpunt R6 miljoen by aftrede. Op R6 miljoen kan ‘n bedrag van R30 000.00 per maand getrek word na aftrede sonder dat jou kapitaal ná inflasie verminder. Onthou, ‘n mens het gewoonlik ná aftrede minder geld per maand nodig as die dag wanneer jy jou eerste salaris ontvang.
‘n Lewenspolis is die beste en goedkoopste manier om nou reeds voorsiening vir jou gesin te begin maak vir die dag wanneer jy te sterwe kom. Hoe jonger jy is wanneer jy die lewenspolis uitneem, hoe laer sal jou maandelikse premie wees. Selfs al pas jy die premie aan teen 3.0% per jaar, behoort jy steeds voldoende te kan voorsien. Maak ook seker dat jy ‘n polis uitneem wat voorsiening maak vir ongeskiktheid en verlies aan inkomste. Gesels vroegtydig met ‘n finansiële adviseur wat jou kan help om jou risikobeplanning en finansiële plan uit te werk.
Hoe gereeld moet ‘n mens jou begroting aanpas?
Jy behoort jou begroting jaarliks aan te pas soos wat inflasie en jou salaris aanpas. Wanneer daar ‘n verandering in jou omstandighede plaasvind, byvoorbeeld wanneer jy trou en later wanneer kinders gebore word, moet jou begroting en finansiële plan dienooreenkomstig aangepas word.
Waarop kan ‘n mens besnoei indien jou begroting nie klop nie?
Besnoei eerste op onnodige uitgawes en kyk waar jy andersins kan bespaar. Kyk of jy op jou elektristeits- en brandstofuitgawes kan besnoei deur die geiser daagliks af te skakel, en nie onnodig te ry nie. Doen jou kruideniersware-aankope volgens ‘n beplande begroting en inkopielysie en hou streng daarby. Moenie onnodige items in jou trollie laai nie. Moenie deur die maand enigiets koop waarvoor jy nie begroot het nie. Probeer om maandeliks ‘n ekstra bedrag, al is dit klein, op jou huisverband af te betaal. Dit sal tot jou voordeel wees indien rentekoerse styg.
Gebruik ‘n kredietkaart en oortrokke fasiliteite net vir noodgevalle. Probeer om dit binne ‘n maand weer af te los, aangesien rente ‘n groot finansiële las kan word. Dit is die duurste skuld wat daar is. Indien enigsins moontlik, koop kontant, met ander woorde, spaar vir dinge wat jy graag wil hê. Moenie op finansiële gebied met jou vriende wat meer as jy verdien, meeding nie. Leer om tevrede te wees met dit wat jy het.
Enige ander begrotingswenke vir ‘n jongmens wat pas begin werk het?
Maak gebruik van finansiële beplanning-proformas wat op die internet beskikbaar is. Daar is ook rekenaarprogramme wat jou rente bereken indien jy ‘n nuwe motor of ‘n huis wil koop. Win eers alle beskikbare inligting in voor jy hierdie twee belangrikste en grootste uitgawes aangaan.
BRON: https://finansies.solidariteit.co.za/die-noodsaaklikheid-van-n-begroting-vir-gesonde-finansiele-bestuur-vanaf-jou-eerste-salaris/